Wensjef versoen Wes en Oos in kos

Wensjef versoen Wes en Oos in kos

Chantel Dartnall in die kombuis van haar restaurant Mosaic, in The Orient-boetiekhotel buite Pretoria. Dartnall is ‘n oudleerling van die Hoërskool Pro Arte Alphen Park

Marlene Malan

Sy sê sy “vind nog haar voete” in die kosbedryf – maar Chantel Dartnall (29) van Pretoria is pas as Suid-Afrika se topsjef aangewys.

Dis vir haar “heeltemal onwerklik” dat sy pas die Prudential Eat-Out-toekenning as sjef van die jaar ontvang het en haar restaurant, Mo¬saic, die tweede prys in die kategorie toprestaurante gewen het. “Ek en my span staan aan die begin van ons loopbane.”

Die EatOut-toekenningsgeleentheid, wat as die Oscar-aand van die Suid-Afrikaanse restaurantbedryf beskou word, bring jaarliks die land se voorste koskenners bymekaar. Die redakteur van die tydskrif Eat-Out, Abigail Donnelly, is aan die spits daarvan.

Donnelly sê dié kompetisie gaan oor begrip vir kosfilosofie en hoe dit geïnterpreteer word. “Kos is sensueel, ‘n balans van geure.”

Die ander beoordelaars was Arnold Tanzer en Peter Goffe-Wood.

Dartnall, met haar eg vroulike kos-aanslag, spesialiseer in die gebruik van blomme in geregte. Op die hoewe buite Pretoria waar Mosaic geleë is, kweek sy self haar kruie en blomme.

“My opleiding is klassiek Frans. Dis die ruggraat van my kos. Maar ek het ook ‘n liefde vir die Ooste. Die versoening van die minimalistiese Franse en oorweldigende Oosterse geure bied ‘n unieke smaak-ervaring.

Dartnall is ‘n oudleerling van die Hoërskool Pro Arte Alphen Park waar sy hotelwese en spyseniering as vak geneem het. Daarna het sy by die Prue Leith-kollege gestudeer en vier jaar lank in Londen as commis- (junior) sjef gewerk. Tuis eet sy graag “?’n kaasbroodjie”.

Dale Luke-Roberts (38), sjef van Suid-Afrika se nr.?1-restaurant, La Colombe in Constantia, Kaapstad, sê kosmaak moet kreatief wees. “Jy moet mal wees oor wat jy doen, die energie hê om nuut te bly dink.

“My styl is onpretensieus. Smaak en subtiliteit is alles. Ons span gee aandag aan die kleinste detail. Ons dink vry, nie met ons kop by kompetisies nie.”

Die restaurant Rust en Vrede buite Stellenbosch wat die EatOut-toekenning vir diens ontvang het, was derde in die kompetisie. Die sjef, David Higgs, is al 18 jaar in Suid-Afrika en het saam met nog drie sjefs dié restaurant twee jaar gelede begin op die historiese wynplaas van die oud-Springbok Jannie Engelbrecht en sy seun Jean.

Volgens Donnelly het Higgs dit reggekry om sy kelners “uitmuntend” op te lei. “Hulle werk foutloos.”

– Rapport